Van die Redaktrise
 Geestelike Voedsel
 Gebede
 Oorsig van arbeid onder dowes (vervolg)
 GEMEENTENUUS
 Kennisgewings
 Nuwe beplanning vir Instituut
 Gebaretaal as amptelike taal
 Basaarnuus
 'n Tikkie humor
 Raai wie verjaar...
 Lesers gesels saam
 Goue gedagtes



 Redaksie
 Vorige uitgawes


Het jy enige lekker nuus vir ons?
Nuusbrokkies kan hier gepos word.



Volgende sperdatum:
22 April 2002





GEESTELIKE VOEDSEL

'n NUWE LEWE

Een aand by 'n kerkdiens het 'n jong vrou gevoel dat God met haar praat. Sy was gehoorsaam en toe sy hoor God se roep haar, het sy opgestaan en Jesus aangeneem as haar Here en Verlosser. Voor dit het die jong vrou 'n baie rowwe lewe gehad. Sy het eers gedrink, verdowingsmiddels gebruik en sy was vir 'n tyd lank 'n straatvrou. Maar nou het haar lewe heeltemal verander, en almal kon sien hoe sy haar ou lewe gelos het en die Here begin volg het. Sy het later 'n getroue lid van die kerk geword en later het sy begin om vir kinders Sondagskool-lesse te gee. En toe gebeur iets, die predikant se seun sien haar, werk saam met haar, en hy word verlief op haar. Die verhouding het gegroei en hulle het begin planne maak om te trou. En net daar het die probleme begin.

Want die een helfte van die gemeente het gevoel dat 'n vrou met so 'n slegte verlede, pas nie by die predikant se seun nie. Die lidmate het oor die saak begin stry en baklei. Hulle het toe besluit om 'n gemeente-vergadering te hou.

Die mense het lekker gestry en geargumenteer, en die spanning het meer en meer geword, en dit het later erg gegaan en mense het begin skree op mekaar. Die jong vrou was baie hartseer hieroor en sy het baie ontsteld geraak oor al die goed wat hulle gesê het oor haar verlede. Toe sy begin huil, het die predikant se seun opgestaan om te praat. Hy kon nie langer stilbly en sien hoe sy toekomstige vrou seerkry deur die woorde van al die mense nie.

Hy sê toe: "Julle praat nou oor my verloofde en oor haar verlede, en julle probeer nou om te besluit of sy goed genoeg is vir my. Maar ek besef nou, dit is nie my verloofde se verlede wat julle hier besig is om te bespreek en te veroordeel nie. Julle is nou besig om te praat en te besluit of die Here Jesus met sy bloed om sondes kan wegwas. Vandag het julle begin praat en begin twyfel of die bloed van Jesus ons skoon kan was en ons heilig kan maak. En nou vra ek vir julle: Wat is julle antwoord. Kan Jesus ons skoon was of nie?"

Die meeste mense in die gemeente het begin skaam word en hulle het besef dat die dominee se seun die waarheid praat. Hulle het begin huil want hulle het besef dat hulle getwyfel het aan God se liefde en nie geglo het dat die Here 'n mens nuut kan maak nie.

Ja, ons as Christene dink te veel aan die verlede en ons gebruik dit soos 'n mes en 'n wapen teen ons broers en susters. Die Here het al ons sondes vergewe, almal. en Hy gee sy vergifnis vir ons. Hy vra ook dat ons mekaar moet vergewe. Dit is deel van die boodskap van die Here Jesus Christus wat ons verkondig. As die bloed van Jesus ander persoon nie heeltemal skoon kan was nie, dan kan dit ons ook nie skoon was nie En as dit waar is, dan het ons 'n baie groot probleem: Wat gaan die Here vir ons sê as ons voor Hom staan en ons is nie skoongewas nie?

Wat kan my sondes wegwas? Niks, net die bloed van die Here Jesus….

Gelukkig het daardie gemeente dit daardie aand besef en hulle het hulle harte oopgemaak vir die meisie en gesê die Here het haar gekies om die dominee se skoondogter te wees.

Het almal in ons gemeente dit al besef???



EK IS DIE KLEI - EK IS DIE VAAS

O!, Pottebakker van alle klei -
is ek die brokkelrigste kluit,
moet U my rol en buig en slaan en
met my eie trane meng -
totdat ek na u wens en wil geskik
die regte buigsaamheid bekom
wat my die vorm kan gee waarin
U my uiteindelik wil vind.
As dit U wil is, en my lot moet wees,
brei en slaan en knie my dan
tot ek, die klei, U hande pas.
Vorm my na U smaak en soos U wil.
Bak my in die witste hittegloed
wat my suiwer en my saamsmelt
in die vaas wat U verlang.
Plaas my dan daar waar ek moet staan -
as houer te dien om ander trane op te vang.
Corné Maré


Lukas 23:26-43
Die soldate kruisig Jesus
26 Die soldate het vir Jesus weggevat. Daar het 'n man van buite die stad gekom, sy naam was Simon van Sirene. Die soldate het hom gevat en hulle het Jesus se kruis op hom gesit. Hulle het vir hom gesê hy moet agter Jesus loop en die kruis dra. 27 Baie mense het agter Jesus geloop. Party van die vroue het hulleself op die bors geslaan en oor Jesus gehuil. 28 Toe draai Jesus om en sê vir hulle: "Vroue van Jerusalem, julle moenie oor My huil nie. Julle moet oor julleself huil en oor julle kinders. 29 Julle moet weet, daar sal 'n tyd kom wanneer die mense sal sê vroue wat nie kinders kan hê nie, en ook vroue wat nooit kinders gehad het nie, is gelukkige mense." 30 Jesus het ook gesê: "In daardie tyd sal die mense vir die berge en die heuwels sê: 'Julle moet op ons val! Julle moet ons toemaak!' 31 Ek sê dit, want Ek is onskuldig, en kyk wat gebeur met My. Julle kan self dink wat sal gebeur met Jerusalem, Jerusalem wat skuldig is." 32 Die soldate het ook twee ander mans weggevat om hulle saam met Jesus te kruisig. Hierdie mans was skelms. 33 Hulle kom toe by 'n plek, die plek se naam was Kopbeen. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het ook die twee skelms gekruisig, een regs langs Jesus en die ander een links langs Hom. 34 Toe sê Jesus: "Vader, U moet die mense vergewe wat My kruisig, want hulle weet nie wat hulle doen nie." Die soldate wat vir Jesus gekruisig het, het Jesus se klere gevat. Hulle het lootjies getrek om te besluit watter klere elkeen moet kry. 35 Al die mense het daar gestaan en kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het vir Jesus gespot. Hulle het gesê: "Hy het ander mense gered, nou moet hy homself red as Hy die Christus van God is, die Een vir wie God gekies het om Koning te wees." 36 Die soldate het ook vir Jesus gespot. Hulle wou hê Hy moet suur wyn drink. 37 Hulle het gesê: "As jy die koning van die Jode is, dan moet jy jouself red." 38 Bo-aan die kruis het hulle op 'n plank geskryf hoekom hulle vir Jesus gekruisig het. Hulle het daarop geskryf "Hierdie man is die koning van die Jode."
39 Een van die skelms wat langs Jesus aan 'n kruis gehang het, wou vir Jesus verneder en hy het gesê: "O, jy sê jy is die Christus. Dan moet jy jouself red en ook vir ons." 40 Maar die ander skelm het gesê hy moet stilbly. Hy het gesê: "Is jy nie bang vir God nie? Want hulle straf jou net soos vir Jesus. 41 Dit is reg dat hulle ons straf, want ons het verkeerde dinge gedoen. Maar Jesus het niks verkeerd gedoen nie." 42 Toe sê hy vir Jesus: "Jesus, dink aan my wanneer God vir U Koning maak."
43 En Jesus het vir hom gesê: "Ek sê vir jou, en dit is seker: Vandag sal jy saam met My in die *paradys wees."
*paradys - hemel

Seënwense
Ds. R. Hough

Terug na bo


Enige voorstelle of probleme met hierdie webblad, kontak vir Magda Spence
Dowe Fokus 2001-2002 - De la Bat Gemeente Bellville