Van die Redaktrise
 Geestelike Voedsel
 Onse Vader
 Kerkraadskamp
  - Terugvoering
  - Fotos
 GEMEENTENUUS
 Belangrike kennisgewings
 Oorsig van arbeid onder dowe lidmate(vervolg)
 Kindermisbruik
 'n Tikke humor
 Raai wie verjaar...
 Lesers gesels saam


 Redaksie
 Vorige uitgawes


Het jy enige lekker nuus vir ons?
Nuusbrokkies kan hier gepos word.



Volgende sperdatum:
22 Maart 2002





KERKRAADSKAMP : 1- 3 FEBRUARIE 2002 : WORCESTER


Terugvoering van kerkraadslede
Fotos

Dit was vir ons kerkraad 'n ongelooflike kamp gewees. Daar het die kerkraad groot besluite geneem om ons gemeente se werk makliker te maak sodat ons meer lidmate sal betrek by ons gemeente en so in diens te staan van die Lewende God. Dit was 'n geseënde kamp. Sondag het Prop. Neil du Plessis gepreek by De la Bat Worcester se kerk. Dit was lekker warm, ons kon toe ook lekker geswem het en lekker gebraai het. (Sien ook paar foto's van die kerkraad se kamp.)

Hier is 'n paar van die mooi sake wat ons behandel het op die kerkraadskamp op Worcester:

Teken die gemeente:

Op die vergadering het Neil met die Kerkraadslede gesels en vir hulle geleentheid gegee om iets van die kerk te sê, maar nie met woorde nie, hulle moes dit teken. Dit was baie interessant wat al die groepe geteken het, met al die mooi dinge en ook die probleme en die krake. Ons het later lank gesels oor elkeen se gedagtes en ons het besluit dit is tyd om wakker te word en die foute van die verlede uit te haal en skoon te begin.

Leierouderling en Leierdiaken:

Ons wil baie geluk sê vir ons nuwe Leier Ouderling, Hein van der Merwe, en leier diaken, Jaco Hanekom. Hulle vat die leisels oor in 'n moeilike tyd maar ons glo die Here het hulle gekies en Hy sal vir hulle die krag en genade gee om te doen wat nodig is. Hulle is nie alleen nie, hulle word bygestaan deur die onder-Leierouderling, Tony Salie, en die onder-Leierdiaken, Marisa du Plessis. Baie geluk vir julle en baie sterkte.

Wat is die doel van ons gemeente?:

Die kerkraad het eers gepraat oor die vraag: Wat moet ons gemeente doen?

Hier is 'n paar van die dinge wat ons moet doen:

  • Dowes help om God se Woord te verstaan
  • 'n Plek maak waar lidmate voel die Here aanvaar hulle
  • Dowes help om God te aanbid op hulle manier
  • Ons lidmate help om die Evangelie boodskap uit te dra en uit te lewe
  • Mense help om vir God en vir mekaar beter te verstaan
  • Ons moet mense help om te glo.


Wat is die doel van ons gemeente?:

Die kerkraad het gepraat daaroor en dit toe so opgesom. Ons gemeente se doel is: Om die Here te dien en te loof, en om lidmate op te bou sodat hulle kan getuig, sodat ander mense ook kan glo in die Here.

Wat beteken hierdie doel vir ons gemeente? Dit beteken:

  • God kom eerste, dan Dowes, dan mense wat nie doof is nie.
  • Ons is nie 'n Dowe Kerk nie, maar 'n Kerk vir Dowes.
  • Daarom moet ons almal in die kerk laat welkom voel, spesiaal Dowes en ons moet probeer om almal in die erediens te laat verstaan.
  • Die besoekers en horende lidmate aanvaar dit so en hulle is bereid om aan te pas by die Dowes.

Die kerkraad besluit dat die dagbestuur 'n datum moet kies vir 'n gemeente-vergadering. By hierdie vergadering sal die mooi besluite van die kerkraad vir almal verduidelik word, ook bv. die sake van nagmaal vir kinders en die Jeug. Die kerkraad vra vir die Kommunikasie kommissie om weer die manier van kommunikasie te bespreek wat ons gemeente die beste pas. Hulle moet ook praat oor die tolke wat ons gebruik.

Die datum van die gemeentevergadering sal op 24 Maart 2002 by De la Bat Kerk plaasgevind word na die kerkdiens. Dit sal 'n kort diens wees en daarna gaan ons gemeente lekker gesels oor hoe ons oor die algehele gemeente voel ens. En daarna sal ons lekker tee drink en daar sal ook versnapperings beskikbaar wees, kerk vra dus dat elkeen ook 'n bordjie eetgoed sal saambring. Mag die Here so 'n gemeentevergadering sal seën en dat ons aan Hom sal oordra. Herinner ook al die dowe lidmate dat dit 'n belangrike aankondiging is.

Wyksleiers:

Ons wyke het elkeen 'n Wyksleier gekies. Hulle is:

Wyk 1 - Jaco Hanekom
Wyk 2 - Hein van der Merwe
Wyk 3 - Carma Möller
Wyk 4 - Rhona Olivier
Wyk 5 - Johanna Myburgh
Wyk 6 - Kallie Behm
Wyk 7.1 - Hannes van Zyl
Wyk 7.2 - Magrieta Eiman
Wyk 8 - Valerie Thiart

Nie-lidmate:

Die kerkraad vra dat elke kerkraadslid moet probeer om elke jaar ten minste een maal by die nie-lidmate gaan besoek en hoor of ons gemeente hulle kan help.


Basaarkommissie:

Elke wyk moet 2 persone kies om op die basaarkommissie te dien. Hulle is saam met Hein van der Merwe en Jaco Hanekom ons basaarkommissie. Alle voorstelle, vrae en probleme oor die basaar, moet na hulle toe gaan.

Daar is klaar alreeds nuwe 2 persone in elke wyk gekies, die eerste basaarvergadering is agter die rug, die volgende vergadering sal weer op 17 Maart 2002 plaasgevind na die kerkdiens. Al die verantwoordelike persone moet asseblief teenwoordig wees.

Nuusbrief:

Ons het gepraat oor die nuus wat nie altyd na die redakteur toe deurgegee word nie en die kerkraadslede word gevra om van nou af elke maand by die lidmate nuus vir haar te kry. Daar is 'n vorm waarop elke lidmaat sy stukkie nuus kan skryf. Dan het ons ook besef dat die kostes van die Nuusbrief nou te hoog is, en dat ons dit nie meer gratis vir ons lidmate (by die kerk) sal kan gee nie. Ons sal later sê hoeveel elke Nuusbrief sal kos.

(Sien asseblief nuwe kostes by redakteursbrief van Dowe Fokus)

Ondersteuning vir mekaar:

Ons kerkraad het besluit dat ons mekaar beter moet leer ken en beter moet ondersteun. Neil het 'n plan verduidelik hoe elkeen in die kerkraad iemand moet kry soos 'n gebedsmaat. Hierdie twee persone moet mekaar beter leer ken, vir mekaar bid, kaartjies stuur en 'n ware nuwe vriend wees.

Leierskap-kursus:

Die kerkraad het besluit dat daar 'n Leierskap kamp gereël moet word vir later in die jaar. Hierdie kursus sal vir ons lidmate leer hoe om 'n leier te wees, hoe om 'n kommissie te lei en hoe om in die wyk, 'n groep, 'n biduur, maar ook 'n ander vergadering of klub te lei sodat dit goed kan gaan met daardie groep. Ons sal later laat weet waar en wanneer.

Dienswerkers in die De la Bat gemeente vir Dowes:

Ons kerkraad het besluit dat ons ook nou dienswerkers in ons gemeente mag gebruik.

'n Dienswerker is iemand wat lief is vir die Here, iemand wat wil help dat die Koninkryk van die Here moet groei en iemand wat diens lewer in die gemeente.

'n Dienswerker werk saam met een van die kerkraadslede. Hy of sy help daardie ouderling of diaken met werk in die wyk. Die dienswerker is nie 'n kerkraadslid nie. Die dienswerker word nie voorgestel soos ander kerkraadslede nie, en die dienswerker hoef nie voor in die kerk te sit wanneer ons erediens hou of kerkraadsvergaderings bywoon nie. Gewoonlik help die dienswerker vir die ouderling of diaken om besoeke te bring, vir siek mense te help en om vir die ouderling of diaken te laat weet as daar iets gebeur in die wyk. Die ouderling of diaken kan self ook met die dienswerker reël vir ander dinge wat hulle saam kan doen soos wat dit nodig is in die wyk.

Dit is belangrik dat die lidmate in die wyk moet weet van die dienswerker en dat hulle ook sal saamwerk met die dienswerker. Daarom sal ons die name van die dienswerkers in die gemeente afkondig en vir die mense sê wie die dienswerker is en dat hy of sy in die wyk gaan werk. Die dienswerker sal ook dank-offers neem en vir die lidmate 'n kwitansie uitskryf en dit inbetaal by die kerkraadslid of by die skriba van ons gemeente.

Ons is baie dankbaar dat daar mense in die Gemeente is wat bereid is om te help met hierdie werk. Ons vra vir al ons lidmate om hierdie dienswerkers te ondersteun en vir hulle te bid en te help dat ons die werk in ons Gemeente op die beste manier sal doen.

Die Verhuring van die Kerksaal
van die N.G. Kerk De la Bat

1. Die huur van die saal is R500,00 per dag (of deel van die dag). Dit sluit in: - die gebruik van die tafels (±30) en stoele (±200) - die gebruik van die kombuis, stoof, bain marie, en urn - skoon waskamers en toilette met toiletpapier - die gebruik van ligte, elektrisiteit vir alle redelike toebehore - die skoonmaak van die saal.

2. Die saal sal beskikbaar wees vanaf Saterdag-oggend 8:00 uur. Indien die huurders die Vrydagaand al die saal wil gebruik om reg te maak, is dit R100,00 ekstra en hulle moet eers uitvind of die saal dan beskikbaar is.

3. Die huur van die saal geld tot die aand om 23:30. Indien die huurders of van die gaste later as dit nog in die saal is (of nie klaar die stoele gepak het nie), sal die koste R50,00 per halfuur of gedeelte daarvan wees, totdat hulle klaar is.

4. Die huurders is self verantwoordelik om die stoele en tafels reg te pak, en hulle moet dit weer terugpak op hulle plek bo op die verhoog as hulle klaar is. Hulle moet die kos, bottels en alles wat oorbly, in die swart sakke gooi wat ons gee, maar hulle hoef nie self die vloere te vee of te was nie. Ons kosters sal dit doen. Indien hulle nie iemand het om die tafels terug te pak nie, kan ons iemand kry om dit te doen teen R 50,00. 5. Die huurders aanvaar volle verantwoordelikheid vir die saal en alles daarin, asook vir skade wat op die terrein of aan die geboue aangerig mag word.

6. Die deposito van R200,00 moet betaal word met bespreking. Indien daar niks is wat gebreek is of enige geld wat afgetrek hoef te word nie, kan hulle die deposito die Dinsdag na die verhuringsdatum by ons skriba kom haal, of versoek dat die tjek aan hulle gepos word. Indien hulle reeds die saal bespreek het en die deposito klaar betaal is, maar hulle kanselleer die bespreking, sal die deposito nie terugbetaal word nie.

7. Die bedrag van die verhuring, R500,00 moet ten minste sewe dae voor die datum van verhuring by die skriba van die gemeente inbetaal word. Die besprekingsvorm moet ook dan volledig ingevul, onderteken en ingegee word.

8. Daar is breekware wat gehuur kan word @ R1,00 per stuk en messe en vurke @ 50c elk. Dit moet ook betaal word een week voor die tyd plus 'n deposito van R100,00.

9. Huwelike vir gemeentelede is gratis, net R50,00 vir die koster wat oop en toe moet sluit. Vir nie-lidmate is die huweliksgeld R200,00. Dit sluit nie die kerksaal in nie.

Dit is die saal van die kerk, en ons versoek dat daar nie gedans sal word in die saal of op die terrein nie, en dat die huurders sal toesien dat al die mense wat in die saal en op die terrein is, hulle goed sal gedra en nie 'n steurnis sal wees vir ander mense nie. Indien die mense nie bly hierdie reëls nie, kan die kerk dit oorweeg om 'n deel van die deposito terug te hou.


'N BELANGRIKE BRIEF VAN DR. HOUGH EN SY KERKRAAD

2002/03/08
Geagte lidmaat,

1. Ons kerkraad het die eerste naweek van Februarie 'n skoling-kamp gehou en ons het baie mooi besluite geneem, wat ons lidmate sal bly maak en ons gemeente gaan verander. Ons het ook gepraat oor die doel van ons gemeente, en ons het besef: Ons gemeente se doel is om die Here te dien en te loof, en om ons lidmate op te bou sodat hulle kan getuig sodat ander mense ook kan glo in die Here.

2. In die verlede het ons baie foute gemaak en ons het dit op die kamp raakgesien. Ons gaan dit probeer regmaak en hard werk om die pad van die Here te loop. Daarom vra ons ook dat u asseblief sal saam bid en saam werk sodat ons alles sal kan doen wat die Here vir ons gemeente vra. Daar is party van die lidmate wat vir lank nie besoek is nie, en ons het besluit dit moenie weer gebeur nie. Help asb. vir ons ook hiermee en sê vir ons as daar probleme is en hoe ons kan help. Bid asb. ook elke dag vir u diaken of ouderling.

3. Die diakens en ouderlinge gaan van nou af ook elke maand by u hoor of daar nuus is wat u in die gemeente se Dowe Fokus wil plaas, en vir u vra om te teken dat hy of sy by u was, en of daar probleme is. Dit lyk vir ons of ons miskien nie meer die nuusbrief gratis sal kan versprei nie. Weet u miskien van 'n borg wat kan help? Kontak vir Nicky asseblief.

4. Ons gemeente se dank-offers het baie minder geword. Daar is 'n paar mense wat nie meer die Here se deel vir Hom gee nie. Dit is verkeerd. Die Here kom eerste en Hy het gesê ons moet een tiende vir Hom gee as dank-offer. Kom ons vertrou die Here met alles en doen wat Hy sê. Ek sal aan die einde van die maand 'n artikel skryf oor dank-offers en tiendes (in die Maart Fokus). Ons wil nou vra vir al ons lidmate om asb. te bid oor hulle dank-offers en ook elke jaar meer gee wanneer u salaris verhoog word. As daar lidmate is wat hulle dank-offers by die bank wil laat aftrek, kan u by u bank 'n aftrek-order invul en hulle sal dit dan self elke maand oorbetaal. Ons bank se besonderhede is: N.G.Kerk De la Bat, ABSA BANK Ou Paarlweg, takkode 334-910, rek no. 1450 580 526. Skryf op die vorm (by afsender) u naam en wyk.

5. Ons gaan weer 'n Gemeente-vergadering hou een van die dae. Daar is 'n hele paar sake wat ons graag wil bespreek, en ons vra nou vir u om te kom saam gesels, maar ook dat u enige vrae of probleme sal stuur na Tony Salie, of na die skriba, sodat ons dit voor die tyd kan kry en kan bespreek. Ons sal vir u laat weet wanneer, ons dink 'n Woensdagaand is die beste. Hoe dink u?

6. Ons kerkraad het 18 kommissies wat vir ons help om die werk van die gemeente te beplan, inligting te kry en saam te bid vir die werk. Ons gaan vroeg in Maart een Sondag praat oor die werk van die kommissies en ons vra nou al vir u om een kommissie te kies waar u ook 'n deel van u tyd gee om die gemeente te help werk.

7. Ons basaar is op Saterdag, 4 Mei, en ons vra vir almal om nou al klaar te begin bid, beplan en te werk. Ons vra ook dat u asb. 'n basaarlys neem en kollekteer vir ons gemeente. Ons het dit baie nodig.

Baie dankie vir almal wat saam met ons die Here dien elke dag. Ons bid dat Hy u sal seën en sal gee dat u geloof in Hom sal groei en dat Hy u meer en meer mag gebruik.

Ds. Rocco Hough en die Kerkraad.

'N GEBED VIR DIE KERKRAAD EN DIE GEMEENTE

Hemelse Vader, maak ons gemeente dankbaar vir ons redding. Dankbaar vir U goedheid en seëninge maar ook vir almal wie U gaan terug bring na die gemeente. Laat ons liefde wys en leef ook na mense wie nie in ons gemeente is nie. Vergewe ons wanneer ons gesondig en ongehoorsaam was. Help ons om met al wat ons het vir U te werk en dit is ons lewe wat nog oor is hier op aarde. Ons bid alles in Jesus se Naam. AMEN!!!!

Ingestuur deur Naomi Lambrechts

Terug na bo



Enige voorstelle of probleme met hierdie webblad,
kontak vir Magda Spence
Dowe Fokus 2001-2002
De la Bat Gemeente Bellville