Gemeenteblad - http://ngkdelabat.tripod.com




  In hierdie maand se   uitgawe...

   Van die Redaktrise

  Geestelike Voedsel
   Jy is baie spesiaal
   Hoor met die hart

  Gemeentenuus
   Gemeente nuus
   In Memoriam
   Nuwe webblaaie

  Artikels
   Leonardo da Vinci

  Gereeld
   Grapblad
   Verjaarsdae
   Resepte
   Goue gedagtes

  Redaksie
   Redaksie


Vorige uitgawes


Volgende sperdatum:
23 Augustus 2002


Skryf aan Dowe Fokus

Maak 'n donasie

Ontvang Dowe Fokus deur die pos - Intekenare vorm.



Geestelike voedsel
Jy is baie spesiaal
"Ek het jou geskep jou gevorm jou verlos jou op jou naam geroep jy is Myne" (Jes 43:1) Ek het jou gekoop en die prys is betaal. (Vgl 1 Kor 6:20; 7:23)

Ons leef in 'n wêreld waarin elkeen vir homself lewe en hardloop. Niemand het tyd vir ander nie. Ons vertrap mekaar en loop oor mekaar.

Jy voel dalk ook asof niemand vir jou omgee nie. Jy soek liefde, begrip en aanvaarding maar jy kry dit nie. Jy verlang dat iemand vir jou sal sê: "Jy is baie spesiaal!", maar niemand sê dit nie. Die lewe is kaal en vaal en het sinloos geword. Dit het al sy vreugde en sprankel verloor. Jy voel stukkend gebreek en afgetakel.

Ek het vir jou wonderlike nuus! Jy kan jou kop optel. JY IS BAIE SPESIAAL!! So spesiaal dat ons groot God en hemelse Vader vir jou kom sê:

  • Jy is kosbaar: Die Here ag jou hoog en Hy betaal vir jou die duurste prys (Js 43:4).
  • Jy is uniek: In die hele wêreld is daar net een soos jy. Lees asb. Ps 139:13, 15, 16.
  • Jy is uitgekies: God het by miljoene mense "verbygegaan" om in Hom te glo (Jh 15:16; Ef 1:4).
  • Jy is verlos: Christus het in jou plek aan die kruis gesterf. Met sy bloed het Hy vir jou betaal en jou so as sy eie gekoop (Js 43:1; Tit 2:14). Jy behoort nou aan Hom.
  • Jy is gedoop: Jy dra die teken en bewys dat jou sonde afgewas is, en jou ou lewe afgelê is (Kol 2:12 - 14).
  • Jy is sy kind: Jy is uit God gebore, en deur die Heilige Gees het God jou sy kind gemaak (1 Jh 5:1; Rm 8:15, 16).
  • Jy is sy erfgenaam: As sy kind erf jy nou saam met sy Seun, Jesus Christus (Rm 8:17).
  • Jy is sy vriend: Soos wat Abraham 'n vriend van God was (Jk 2:23), so noem Jesus jou ook sy vriend (Jh 15:14, 15).

En omdat jy VIR GOD SO SPESIAAL is, gee Hy so baie vir jou om.

Hy het jou innig lief en sy liefde sal nooit ophou nie (Ef 2:4; Js 54:10: Joh 13:1).
Hy omhels jou en vertroetel jou en versorg jou soos die appel van sy oog (Deut 32:10).
Hy beskerm jou so dat niemand jou uit sy hand sal ruk nie (Joh 10:28, 29). Hy beskerm jou teen alle gevaar (Ps. 121).
Hy seën jou met die beste onder alle omstandighede (Num 6:24 - 26). Bid die gebed van Jabes (1 Kron. 4:10).
Hy bly by jou, en Hy woon in jou huis. Hy los jou nooit alleen nie (Joh 14:17, 23).
Hy sorg vir jou. Jy hoef oor niks besorg te wees nie (Fil 4:6). Hy weet wat jy nodig het (Mt 6:32), en Hy sal jou nie in die steek laat nie (Heb 13:5).
Hy onthou jou. Jou naam is in sy handpalm gegraveer (Jes 49:15, 16).
Hy vergewe jou. Hy dink nie meer aan jou sonde nie (Jes 43:25). Hy wis dit uit met sy bloed (1 Joh. 1:7).
Hy bid vir jou. Hy is jou Middelaar en Voorspraak, wat by die Vader vir jou intree (Joh 17:9).

Jy is so SPESIAAL dat hy sy eie Seun na hierdie wêreld gestuur het, vir jou persoonlik, om al jou sonde, jou pyn en eensaamheid, jou hartseer en verworpenheid te dra. Hy wil die lewe vir jou mooi maak en al die vreugde en sprankel vir jou terugbring. Laat Hy jou lewe oorneem, en ALLES VIR JOU NUUT MAAK.

As die Here vir jou so omgee, kan jy nie meer moedverlore en uitgeworpe wees nie. SKEP MOED, STAAN OP EN BEGIN LEWE! DIT IS DIE MOEITE WERD, WANT JY IS BAIE SPESIAAL!!!

Groete en seënwense
Neil du Plessis

Terug na bo



Enige voorstelle of probleme met hierdie webblad, kontak vir Magda Spence
Dowe Fokus 2001-2002 - De la Bat Gemeente Bellville