Onthou jy nog die reuk van sonskyn in skoon wasgoed? Ek onthou goed hoe ek as kind my
gesiggie diep in die wit lakens aan die wasgoedlyn gedruk het om die sonskyn te ruik.
Hoe skoon het die grond geruik na 'n bui reën.
Die Here hoef ons nie met sintuie te geseën het nie. Dit was nie noodsaaklik vir
oorlewing dat ons moes kon ruik nie, maar omdat Hy ons 'n reuksintuig gegee het, kan ons
die rose in ons tuin soveel meer waardeer. Omdat Hy vir ons oë gegee het wat in kleure
en dimensie kan waarneem, kan ons die skakerings blou van die wolke sien, die milde groen van die bome.
Dink aan die vreugde wat jou tassintuig verskaf - hoe warm en wonderlik om 'n baba
teen jou vas te druk, met 'n wollerige hondjie te speel, iemand 'n drukkie te gee en
een terug te ontvang. Die Here het ons bederf deur ons sintuie. Ons word beskryf as 'n
"aangename geur van Christus tot eer van God." Ek wonder soms of ek regtig daardie roeping vervul het.
Gaan die dag tegemoet met 'n gebed om die aangename geur van Christus te versprei,
en ander sal ook deel in die seën. Leef in Sy teenwoordigheid en almal rondom jou sal
gewaar dat jy vroeg die oggend aan Sy voete gesit het.
GEBED: Here, baie dankie vir die sintuie waarmee U my geseën het. Ek wil so graag
elke oomblik vir U 'n aangename geur wees.