Van die Redaktrise
 Geestelike Voedsel
 Moedersdag
 Geluk
 Oorsig van arbeid onder dowes (vervolg)
 GEMEENTENUUS
 Wees 'n aangename geur!
 Humor vir die maand
 Raai wie verjaar...
 Lesers gesels saam
 'n Tikkie humor

 Redaksie
 Vorige uitgawes


Het jy enige lekker nuus vir ons?
Nuusbrokkies kan hier gepos word.

Ons kan u per e-pos laat weet sodra die nuusbrief beskikbaar is,asook enige fotos wat laat ingekom het - klier hier

Volgende sperdatum:
23 Mei 2002






  1. Eerste vervolg
  2. Tweede vervolg
  3. Derde vervolg
  4. Laaste vervolg
HIER IS 'N TWEEDE VERVOLG VAN DS. A.B. RETIEF SE OORSIG VAN ARBEID ONDER DOWE LIDMATE VAN DIE N.G. KERK KAAPLAND

3.2 Bediening van die Sakramente:

Die sakramente is met gereelde tussenproses bedien. Tot aan die einde Julie 1952 is daar 10 kindertjies gedoop en twee volwassenes. Vir dieselfde tydperk kon Nagmaalsbedieninge waargeneem word. Nagmaal word nog as 'n baie besondere geleentheid beskou en vanaf baie plekke in die Boland vind daar gedurende so 'n naweek 'n groot sametrekking van dowes in Kaapstad plaas. Met eie bydraes, deur die loop van die tyd byeengebring was die dowes in staat om 'n eie Nagmaalsservies aan te koop wat aan 120 kommunikante geleentheid bied. Daar mag hier ook net genoem word dat enkeles hulle aangemeld het vir die katkisasieklasse en ses is aangeneem en voorgestel.

3.3 Persoonlike Sielsorg:

Met baie weinige (min) uitsondering is al die dowe lidmate van ons kerk in Kaapstad opgespoor en besoek. Aan hulle huise kon ons saam oor die ewige dinge gesels en bid. Na vermoë het ons altyd probeer om die boodskap van die kruis in hulle huise in te dra. Ons glo dat dit ook nie tevergeefs was nie.

3.4 Gemeentelike Basaars:

Uit hoofde van die feit van die verspreide aard van ons lidmate oor die hele Boland is die organisasie tot die hou van dankfeesbasaars geen gemaklike taak nie. Die mense woon ver uitmekaar en telefoongeriewe baat nie in hierdie opsig nie. Tog, is daar twee baie geseënde pogings aangewend in 1950 en 1952 om ons saak finansieël te versterk. Laat ons sommer dadelik ook hier sê dat sonder die hulp van ons horende lidmate ons nie so 'n onderneming sou kon aanpak nie. Dit was van die horende lidmate, ook van die verafgeleë dele, dat daar finansiële steun gekom het. Maar, die dowes self, het self alles in hulle vermoë gedoen om die saak van die Here te dien. Hulle gee na hulle vermoë en ook ons dankfeespogings het gedui dat hulle hul kragte nie spaar nie. In alles kon daar op hulle gereken word. Getrou, ywerig en belangstellend het hulle gewerk. Groot moeite is met die rondom van die kollektelyste gemaak. Met innige dankbaarheid teenoor die Here kan ons dan ook meld dat die uiteindelike bedrag (basaar en lyste tesame) in 1950 die bedrag van £1 328.1.3 gelewer het en in 1952, £1 613.11.1. Langs hierdie weg dan ook ons innige dank aan die kerkrade van die verskillende gemeentes, wat aan ons verlof tot insameling van fondse in hulle gemeentes, gegee het, asook diegene wat iets op daardie lyste gedoen het. Hierdie onderneminge het met die verlof van die A.A.K. plaasgevind. So pas is melding van die ywer van die dowes gemaak. In hierdie verband wil ons ook noem dat ons in Kaapstad die maandelikse stelsel van bydrae ingestel het, aangesien die meeste van ons lidmate ook weeklikse of maandelikse salaristrekkers is.

Dit is 'n stelsel wat ook ander doeleindes dien - daar kon altyd op hoogte gehou word van die wel en wee van elke lidmaat juis waar hulle so verspreid is. Hierdie werk word deur vyf kerkkomiteelede wat op eie koste maandeliks by die huise rondgaan, gedoen.

Dit het u seker opgeval dat ons gespreek het van kerkkomiteelede en nie kerkraadslede nie. Waar daar nie 'n Kaapland 'n geregistreerde gemeente vir dowes bestaan nie en ons dus ook nie by magte was om hulle in die ampte te bevestig nie, moes hierdie naam gebruik word. Elke dowe behou sy identiteit ten opsigte van die gemeente waar hy woonagtig is. Die dowe lidmate benoem self hulle kerk komiteelede. Hierdie komitee bedien ons verder met die gevoelens van die dowes en saam met hulle kan ons dan beraadslaag en beplan.

3.5 Bykomende Funksies:

(a) Werkverskaffing:

Dit gebeur soms dat die dowe as gevolg van werkvermindering sy vaste werk verloor en dan elders uitkoms moet gaan soek. In baie gevalle kom hulle sonder hulp reg, maar tog word daar soms 'n tolk en sulke omstandighede verlang. Na vermoë poog ons om aan elke aansoek om hulp tot werkverskaffing, te voldoen.

(b) Hulp as Tolk:

Dit gebeur dikwels dat ons in hierdie verband kon help. Daar is bv. gevalle waar een of ander medies ondersoek moes word, of by vergaderings ens. waar dowes aanwesig was, waar die hulp van 'n tolk nodig was. Dankbaar dat ons ook hierin kan help.

(c) Persoonlike Hulp:

Persoonlike hulp word soms verlang met die opstel van testamente en ander dokumentêre bewysstukke of by die aansoek van pensioene. Daar word dikwels om leiding en raad gevra in baie gevalle waar hulle verontreg voel.

(d) Kolportasie:

Die sektes laat ook die dowes nie met rus nie. Ons was gelukkig in 'n posisie om te kon waarsku en beter en suiwer boeke in die plek daarvan aan te beveel en te verkoop.

4. Wat die werk op die Platteland ingehou het:

Baie van die dowe lidmate bevind hulle op eensame plase en dorpe. Na vermoë het ons bykans almal besoek, wat ons enigsins kon bereik. Per kar en ook per trein in S.W.A. het ons hierdie mense aan hulle huise gaan besoek. Hierdie kontak het aan hulle die vrymoedigheid gegee om in die toekoms aan my te skryf en hulle moeilikhede en probleme te stel. Dit was veral op hierdie reise dat ons met die ongeletterde dowe te doen gekry het. Dit is hulle wat nooit enige skoolopleiding geniet het nie. Om met hierdie siel kontak te maak is byna 'n onbegonne taak, omdat hulle geen gebarestelsel het wat ons kan verstaan nie. Dit is gewoonlik maar net die mense met wie hulle saamleef wat hulle enigsins goed kan verstaan en aan wie hulle hul verstaanbaar kan maak. Dit is vir ons as horendes seker baie moeilik om enigsins te besef in watter ontsettende eensaamheid hierdie mense hulle bevind. Geen weg waardeur hulle met die buitewêreld kan kontak maak nie. Ten opsigte van die geestelike dinge - waaraan sou hulle hul lewe kon aanlê om te bepaal wat reg en wat verkeerd is? Wat sou hulle begrip van sonde wees? Wat sou hulle opvatting van heiligmaking en die ander heerlike geestelike waarhede wees? Sou hulle nie maar so lewe soos hulle sien dat ander mense lewe? En tog gaan ons hulle nie verby nie. Langs die weg van die vertoning van prente en eenvoudige gebare probeer ons om iets aan hulle geestelike welsyn te doen. Die beeld van die Herder en die kudde, dié van Christus en die die kruis, dien in hierdie opsig baie goeie doeleindes. Maar, dit is en bly maar 'n uiters moeilike taak. 'n Mens moet maar van die gebare- stelsel afwyk en ander probeer maak, dinge maar oor en oor sê en die weg soos met 'n kind, gaan. Maar, die Gees van God is ook hier werksaam en oortuig nog, daarom glo ons dat hierdie besoeke nie tevergeefs was nie.

Dit is wanneer ons by hierdie mense staan dat jy telkens besef watter groot werk die Skool vir Dowes op Worcester doen. Dit is daar waar 'n nuwe wêreld vir hulle oopgestel word en waar hulle met die vreugde deur met ander te kan omgaan, bekendgestel word. Daar word baie deeglik besef dat dit 'n sware las vir 'n ouer is om sy kleine so ver weg van die huis na die skool te stuur, temeer nog omdat die kindjie doof is, maar dit is vir sy eie beswil dat hulle hom moet stuur. Die kind se hele toekoms sal hierdie daad van sy ouers bepaal word. En nou, terwyl ons hieroor skrywe, nog net dit. Dit sal die verantwoordelike ouer pas om maar die kindjie so spoedig moontlik na die skool te stuur omdat die praktyk oor en oor bewys het dat hoe vroeër die kindjie gestuur word, hoe groter sal die sukses wees, wat verwag kan word.

Stel nou teenoor die geletterde die ongeletterde wat geen taalkennis het nie en dus ook inhou dat hy nooit 'n gevorderde ambagsman sal kan word nie. Rekenkunde is tog essensieël en daarsonder bly hy maar net waar hy is. Die ontwikkelde aan die anderkant word 'n volwaardige ambagsman, wat met ander kan gesels en vooruit in die lewe sal kom. Watter ontsettende verskil is daar ook nie in die bevatting van die geletterde en die ongeletterde.

Terug na bo


Enige voorstelle of probleme met hierdie webblad, kontak vir Magda Spence
Dowe Fokus 2001-2002 - De la Bat Gemeente Bellville