Sarie Church van Rusoord
Liewe Redaktrise, ek sien daar was min nuus in die nuusbrief die laaste maand, dus
skryf ek nou maar. Ek wou laaste maand geskryf het maar die sperdatum was verby.
Dit gaan goed met ons Rusoord inwoners. Tommy Price gaan weg na die plek waar hy
moet versorg word. Sy sig is swak en nie gesond nie. Hierdie plek is vir mense wat
selfstandig self versorg. Eric Bergh vorder by Panorama deur fisioterapeut. Ons
weet nie vir hoe lank nie. Hy en Sue het oupa en ouma geword. Hulle is baie trots
op die kleinkind. Joey en Christo Louw van Vryheid bly nou hier by Rusoord.
Hulle leer om aan te pas. Op een Saterdag het die jeugwyk van ons kerk vir ons
bejaardes genooi na skoenlapper węreld ('Butterfly World"). Ons het dit so geniet
en dit was baie interessant. Marie Zeelie het vir Ds. Hough gevra om foto's van
ons almal te neem. Ons het reg geposeer en "gesmile", maar later hoor ons daar
was nie film in die kamera nie. Ons het lekker gelag. Ons lede van Diens van
Barmhartigheid en Ds. Hough en sy vrou was genooi na Hanna Dippenaar vir aandete.
Die kos en poeding was van die boonste rakke. Ons het dit so geniet. Ds. Hough
het gepraat oor wat ons moet doen vir die komissie in die toekoms.
Cassie en Rina du Plessis van Concordia Hofmeyr
Ons nooi elke persoon wat altyd my pa Flip en ma Mansie kom kuier het, om ons nie
te vergeet nie. As julle deur Hofmeyr ry, kom kuier gerus by ons. Julle is baie
welkom. Ons het julle diens een Sondag baie geniet, en geestelike skate met ons
saam gebring.
Louis Koorts van Wellington
Ek het een Saterdagoggend in Paarl pretstap gehad. Ek het 11 km gestap, die dag was
baie warm gewees. My tyd was 1 uur 30 minute. My bene was so seer en styf. Maar
dit was vir my baie lekker om te stap.
Marie en Dannie Jonck van Gordonsbaai
Ons kwartaal afsluit-ete was by ons huis op 21 September. Daar was besluit dat
dit die keer potjiekos sou wees. Dannie het nette by ons braai opgesit vir die potjiekos
ingeval die wind sou waai. Op 21 September was die wind storm sterk en Dannie moes
toe 'n ander plan maak. Hy het toe 3 gasstofies binne in die huis gebruik.
Winston het vroeg die middag al gekom en hy en Dannie het vroeg begin met die
potjies. Baie dankie aan al die wyk 6 mense wat bygedra het met die produkte.
Almal het baie lekker gesmul. Daar was lekker gesels en baie grappe is gemaak.
Niemand was lus om huistoe te gaan nie. Louis en Christina kuier nog by hulle
kinders in die Transvaal. Hulle het reeds op 1 September na die Transvaal vertrek
en sal op 29 Oktober 2002 terugkom. Dit gaan goed met my en Dannie se gesondheid.
Dannie gebruk nog pille vir sy hart, maar dit gaan goed met hom. Met my gaan dit
ook goed. Ek moet weer 3 Desember vir 'n hartondersoek gaan maar ek hoop en vertrou
dat alles goed sal afloop. Met my kinders gaan dit ook nog baie goed. Janie is al
meer as 5 maande getroud en dit gaan baie goed met hulle. Ons seun se vrou verwag
weer 'n seuntjie in die begin van Februarie 2003. Ons bid dat dit weer so 'n
pragtige welgeskape seuntjie sal wees. Ons mis nog altyd ons vriend Deon Dippenaar
en al sy grappies. Ons is dankbaar dat ons Vader in die hemel so goed sorg vir
Hanna. Hulle was 'n baie gelukkige gesin, en sy mis hom seker nog baie. Nogmaals
baie geluk met Naomi en Johan se verlowing. Mag die Here ook in hulle huis gaan woon,
dan sal daar net geluk wees. My broer, Christo Louw en sy vrou woon ook nou in die
ouetehuis in Bellville. Ons is baie bly dat hulle nou nader aan ons woon. Ons hoop
en bid dat hulle baie gelukkig daar sal wees, en dat hulle gou hier in die Kaap sal aanpas.
Liefde groete aan al die nuusbrief lesers.