Gemeenteblad - http://ngkdelabat.tripod.com




  In hierdie maand se   uitgawe...

   Van die Redaktrise

  Geestelike Voedsel
Swart dowes uitreik
  Gemeentenuus
Gemeente nuus
Bybel leesprogram
Kerkraadsvergadering
Belangrike afkondiging
   Artikels
Internet artikels
   Gereeld
Grappies en staaltjies
Verjaarsdae
Goue gedagtes
   Briewe
Lesers gesels saam
   Redaksie
   Redaksie


Vorige uitgawes


Volgende sperdatum:
20 November 2002
(Gesamentelike nuusbrief)



Skryf aan Dowe Fokus

Maak 'n donasie

Ontvang Dowe Fokus deur die pos - Intekenare vorm.


Interessante stukkies uit die Internet


M-WEB HELP DOWES OM TE LEER OP DIE NET

Rapport - Navorsing aan die Universiteit van die Witwatersrand dui daarop dat sowat 3,5% van Suid-Afrika se bevolking in meerdere of mindere mate gehoorverlies ondervind. Dowes is dus die grootste groep gestremdes in Suid-Afrika. M-Web, Suid-Afrika se voorste verskaffer van internetdienste, reik nou na hierdie gemeenskap uit deur spesifieke kursusse aan dowe onderwysers te bied. Dit vind by die e-Sentrum in Kaapstad plaas. Dit is die eerste keer dat die dowes in Suid-Afrika die geleentheid gebied word om die internet op 'n gestruktureerde manier te leer gebruik. Dit beloof om 'n hele nuwe dimensie aan die onderrig van dowe kinders te verleen. Die e-Sentrum in Hofstraat, Kaapstad is een van die drie sentrums wat deur M-Web en Media24 bedryf word. Al drie (Calitzdorp, Carnarvon en Kaapstad) word aangewend as onderrigsentrums waar leerlinge, onderwysers en ouers toegerus word om die internet as leer- en onderrighulpmiddel te benut. Die driedaagse kursus wat deur M-Web Leerhulp se span opvoedkunde-spesialiste ontwerp is, het ten doel om dit maklik te maak om die internet as onderrig-hulpmiddel aan te wend. Dit is in die besonder van nut vir dowes, aangesien dit 'n visuele en nie 'n klankgerigte medium is nie. Tans word die kursus aan onderwysers van die Dowe Federasie van die Wes-Kaap gebied. Dit sal gefasiliteer word deur ervare opleiers by die e-Sentrum, voormalige onderwysgegradueerdes en vingertaaltolke. Afgesien van die inhoud en vakkundige hulp wat die e-Sentrum aan M-Web Leerhulp verleen, ontwikkel die sentrum reeds meer as 18 maande lank formele opleiding in die gebruik van die internet as kurrikulum-hulpmiddel. Me. Louise Malherbe, bemarkingsbestuurder van M-Web, sê die internet hou uitstekende voordele vir die dowe gemeenskap in. 'Bo en behalwe die voor die hand liggende toegang wat dit bied tot diepgrondige inligting oor 'n reeks onderwerpe, is dit een van die platforms waarop die dowes op 'n absolute gelyke voet kan meeding en deelneem. In die loop van die eerste dag van opleiding het dit duidelik geword dat dowe onderwysers besonder goed op die internet presteer. 'Hulle is baie meer visueel geletterd, en snap veel gouer as vorige opleidingsgroepe waar en wat die vinnigste kortpaadjies na inligting is.' M-Web lewer die omvattendste inhoud vir aanlyn-leerlinge in Suid-Afrika. Dit bied uitgebreide internetbronne vir kinders, onderwysers en ouers.


AANVAAR ONS, ONS WIL KERK NIE SKEUR; GEWESE PREDIKANTSVROU PLEIT BY NG SINODE OOR GAYS:

Beeld koerant - Dis agt maande sedert sy aan die gemeente erken het sy is gay. Kort daarna het sy uit die pastorie getrek en is sy deur baie mense verstoot. Vandag kan me. Grethie Coetzee (34), voorheen predikantsvrou van die NG gemeente Vanderbijlpark-Suid, sê sy het 'die weg van die waarheid gekies'. 'Ek kon nie langer met die leuen saamleef nie,' het Coetzee die naweek vertel op 'n konferensie oor homoseksualiteit by die NG kerk Driehoek in Vanderbijlpark op die vooraand van die sitting vandeesweek van die algemene sinode van die NG Kerk. Homoseksualiteit is een van die brandende kwessies wat op die sitting te berde gebring gaan word. Coetzee het gesê baie mense dink om gay te wees, is 'n sonde, 'n vloek wat God oor jou uitgespreek het. 'Ek het ook met dié idee grootgeword. Ek wil nie die Here se eer skade doen nie, maar Hy het my só gemaak. Hoe kan dit sonde wees?' Coetzee en haar man, ds. Eon Coetzee, was vanjaar 13 jaar getroud. Hulle het drie seuntjies. In Maart het sy besluit om die huwelik te beëindig en die 'weg van die eensames' te volg. Sy het vertel sy het aanvanklik by die Here gepleit om haar te verander, maar ná maande van gebed ervaar sy nou 'n onbeskryflike bevryding en het sy haar onvoorwaardelik aanvaar. Vir die eerste keer in haar lewe is sy werklik gelukkig. Maar sy is steeds seer oor die gesin wat sy moes agterlaat. Haar man was goed vir haar. En sy weet hy het haar steeds innig lief, maar die leemte in haar binneste het net groter geword. Hy kon dit nie vul nie. Coetzee het vertel sy het dag en nag die Here gevra om van haar 'n goeie vrou vir haar man te maak, 'n goeie ma vir haar kinders en 'n goeie predikantsvrou. 'Hierdie onnoembare, onlogiese hunkering in my het net al hoe sterker geword.' Sy het berading gekry. Sy het selfmoord oorweeg omdat sy geglo het in Die Bybel staan duidelik dat homoseksuele met klippe doodgegooi moet word. Die gedagte aan haar seuntjies het haar van selfmoord laat afsien. Sy vertel sy was verskeur en het 'n dubbele lewe begin lei. 'Die konflik tussen dít wat ek is en dít wat ek behoort te wees, was soms ondraaglik. Ek weet nie waarom ek ooit getroud is nie. Ek is steeds lief vir my gewese man, maar dis soos vir 'n baie spesiale vriend.' Sy het later met haar man oor hierdie 'vreemde gevoelens teenoor ander vroue' gepraat. Hulle het dit met hul kinders bespreek dat sy 'anders' is en dat sy die huis sou verlaat. Sy krimp steeds ineen by die gedagte aan die aand toe een van haar seuntjies gevra het: 'Mammie, gaan jy nou hel toe?' 'Ek voel ek is deur die kerk mislei deurdat Die Bybel verkeerd geinterpreteer word. Nêrens word eksplisiet genoem dat homoseksualiteit sonde is nie. Dit weet ek vandag, ná ure en dae se Bybelstudie en leeswerk. 'Die kerk en die sinode wat 'n besluit oor ons moet neem, is in 'n dilemma. Ek verstaan dit. Maar ek vra: asseblief, as dit moontlik is, aanvaar ons in die kerk. Nie een van ons wil graag die kerk sien skeur nie. Miskien is dit dan beter om maar liewer die finale besluit oor ons uit te stel. 'Miskien sal die kerk ook oor 'n dekade sê: `Jammer ons het julle verstoot', soos hy vandag jammer sê oor apartheid, rassisme en slawerny. Dit kon ook alles uit die Skrif regverdig word. As ek kon verander, sou ek. Wie sal uit vrye wil kies om gay te wees as dit soveel makliker is om by jou gesin te bly?'


BEWYSE VAN JESUS SE BROER GEVIND; VONDS VAN HOUER MET INSKRIPSIE 'N EERSTE;

Beeld - Koerant - 'n Inskripsie op 'n 2 000 jaar oue beendere houer van kalksteen wat onlangs in Israel gevind is, lyk of dit die oudste argeologiese bewys is dat Jesus van Nasaret geleef het. Jakobus, seun van Josef, broer van Jesus, lui die inskripsie en volgens mnr. André Lemaire, 'n Franse akademikus, dateer die kalksteenhouer van drie dekades ná die kruisiging. Die woorde is in antieke Aramees. Hoewel al drie name algemeen was in die antieke tyd, is die kombinasie van die drie name baie spesifiek, skryf Lemaire. Jakobus word in die Nuwe Testament genoem as familie van Jesus. Jakobus is ook die skrywer van die brief aan die 12 stamme van Israel wat in Die Bybel opgeneem is. Lemaire beskou dit as 'n outentieke verwysing na Jesus van Nasaret. Tot voor dié ontdekking is geen artefak van die eerste eeu nog gevind wat aan Jesus gekoppel kan word nie. Hoewel daar vrae bly, glo Lemaire die kalksteenhouer en inskripsie is eg. Die Jode het van 20 v.C. tot 70 n.C. ossuariums (houers waarin dooies se bene geplaas is) gebruik. Die houer is sowat 'n halfmeter lank. Volgens Lemaire was dit ongewoon om die pa en broer van die oorledene te noem. Daar is net een ander voorbeeld van dié gebruik in Aramees. Dit beteken dat die spesifieke broer, Jesus, baie belangrik of bekend was inderdaad die geval met Jesus Christus. Twee wetenskaplikes van Israel het die oppervlak en die inskripsie in mikroskopiese besonderhede bestudeer en gesê daar is geen bewys dat dit nie outentiek is nie. Die eienaar van die beenderehouer wil nie sy naam bekend gemaak hê nie en ook nie waar dit bewaar word nie. Hy het nooit die potensiële waarde daarvan besef voordat Lemaire dit nie bestudeer het nie. Die eienaar is nie van plan om dit in die openbaar ten toon te stel nie, want hy wil nie die koste aan die versekering en beskerming daarvan hê nie. Sapa-AP


DIE ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERK HET BESLUIT OM SY TYDSKRIFTEMAATSKAPPY (TM) UIT DIE KLOUE VAN BANKROTSKAP TE RED;

Beeld - Koerant - Die Algemene Jeugkommissie het R1,5 miljoen hiervoor aangebied en die Christelike Lektuurfonds R500 000. Volgens ds. Christo Alheit, lid van die kommissie wat die TM ondersoek het, kan die TM binne sewe dae knak as die kerk nie iets doen nie. Hy het aan die algemene sinode gesê die TM skuld Absa R1,3 miljoen en toon 'n bedryfsverlies van R700 000. Boonop het die sirkulasie gedaal en adverteerders die hasepad gekies. Presies hoe die saak gehanteer gaan word om TM te red, moet nou deur kundiges uitgewerk word. Dié besluite is geneem ná 'n gespanne bespreking waarin kritiek op dr. Frits Gaum, uitvoerende hoof van die TM, en die direksie uitgespreek is. Gaum het gesê die afgelope ses maande sedert die eerste berigte oor probleme in die TM in Rapport verskyn het, was vir hom 'n 'slopende ervaring'. Hy het erken hy het foute begaan en verskoning gevra. Hy het gesê hy aanvaar die bevindings van die ondersoekkommissie na die kerklike media wat deur die algemene sinodale kommissie aangestel is. Wat hy moeilik aanvaar, is dat kerkmense hom by koerante verkla het sonder om eers met hom daaroor te praat. Só maak kerkmense nie met mekaar nie. Dan is mense nie meer broers en susters nie, maar vyande, het hy gesê. Hy het die vergadering verlaat nadat hy klaar gepraat het en die bespreking en besluitneming is in sy afwesigheid afgehandel.

Die sinode het die bevinding aanvaar dat daar nie korrupsie, oneerlikheid, doelbewuste wanbestuur of roekeloosheid in die TM was nie. Daar is besluit dat daar wel ondeurdagte besluite was en dat die bestuur nie genoeg rekening gehou het met finansiële en bestuurskundige werklikhede nie. Die sinode het ook sy voorbehoud uitgespreek oor transaksies van belastingstrukturering wat blykbaar heeltemal wettig was, maar waar daar tog sprake van misleiding was.


NG KERK STEL UIT OOR GAY-SEKSUALITEIT:

Beeld - Koerant - Homoseksuele lidmate van die NG Kerk sal tot die kerk se volgende algemene sinode moet wag om te hoor watter standpunt die kerk oor hul seksualiteit inneem. Die algemene sinode het gister erken dat daar in die kerk ernstige meningsverskil is oor die standpunt oor homoseksualiteit wat die kerk in 1986 ingeneem het. Daarvolgens is 'n homoseksuele oriëntasie nie sonde nie, maar die uitlewing daarvan wel. Die sinode het gevra dat 'n omvattende studie oor homoseksualiteit gedoen word. Kundiges, maar ook gay gelowiges en gelowiges wat bely dat hulle deur God van homoseksualiteit bevry is, moet daarby betrek word. Terselfdertyd het die sinode teenoor gays bely dat die kerk in die verlede met veroordeling en liefdeloosheid gehelp het om hulle te vervreem. Die sinode verklaar dat hy nie die integriteit van medegelowiges in twyfel trek bloot op grond van hul seksuele oriëntasie nie.

Die kerk wil hulle verseker van sy pastorale bewoënheid en hulle verseker dat hulle welkom is in die kerk. Daarmee saam het die sinode 'sonder miskenning van die feit dat daar in die samelewing verhoudings bestaan en tot stand kom tussen lede van dieselfde geslag' die standpunt gehandhaaf dat 'n huwelik net deur 'n man en vrou gesluit kan word. Homo- en heteroseksuele losbandigheid is ook ten sterkste veroordeel. Die sinode het gevra dat homoseksuele mense in afwagting van die volgende algemene sinode se besluit 'in die styl en gesindheid van Jesus Christus' aanvaar word.

Terug na bo



Enige voorstelle of probleme met hierdie webblad, kontak vir Magda Spence
Dowe Fokus 2001-2002 - De la Bat Gemeente Bellville