WAT IS ADVENT?
Die woord "Advent" is afgelei van 'n Latynse woord wat "koms" beteken en verwys 
natuurlik na die koms van Christus, sy eerste koms sowel as sy tweede koms. In 
Adventstyd vier ons God se ingrype in die geskiedenis van die mensdom om alles 
wat stukkend is, weer heel te maak deur die geboorte van Christus as mens. Ons 
hernu ook in hierdie tyd ons hoop dat God dit wat met die eerste koms van Christus 
begin is, gaan voltooi met die wederkoms van Christus. Ons verlange dat God die 
gebrokenheid van die skepping sal heel en die bose finaal sal verslaan, is in 
Adventstyd besonder akuut. Adventstyd fokus op die feit dat ons tans "tussen die 
tye" (tussen die tyd van Christus se eerste koms en sy wederkoms) leef en dat dit 
ons lewensuitkyk en leefwyse bepaal. In hierdie tydsgewrig het ons as Christene 
die taak om "waaksaam" te wees deur aktief die belange van God se koninkryk te 
bevorder. Hoewel Adventstyd 'n tyd van afwagting en verwagting is, is dit nie 'n 
passiewe "wag" nie, maar 'n aktiewe besig wees om die liefde van God te bedien.
WANNEER VIER ONS ADVENT?
Advent is die begin van die kerklike jaar. Dit begin op die vierde Sondag voor 
Kersfees en eindig op Oukersaand, 24 Desember.
KLEURE EN SIMBOLIEK IN ADVENT
Hoewel purper (of pers) die tradisionele kleur in Adventstyd is, gebruik die 
meeste kerke vandag koningsblou om dit te onderskei van Lydenstyd. Liturge dra in 
hierdie tyd dus koningsblou stolas en kanselkleed is hoofsaaklik koningsblou.
Een van die gewildste simbole in Adventstyd is die adventskrans. Dit is 'n ronde 
krans wat van groen blare gemaak word en waarbinne vyf kerse geplaas word; vier 
in die sirkel en een in die middel. Drie van die kerse in die sirkel is blou 
terwyl die vierde een ligroos is. Die middelste kers is wit. Die kerse word op 
die Adventsondae die een na die ander aangesteek sodat al vier kerse in die sirkel 
op die vierde Adventsondag brand. Die middelste kers, die Christus-kers, word op 
Kersdag aangesteek. Die ligroos kers word op die derde Adventsondag aangesteek. 
Die eerste kers simboliseer verwagting en hoop, die tweede kers simboliseer verkondiging 
of aankondiging, die derde kers (ligroos) simboliseer vreugde, en die vierde kers 
simboliseer reinheid.
GEBRUIKE TYDENS ADVENT
Daar is verskeie gebruike tydens Advent, maar die een waarby gesinne en veral kinders 
die sinvolste betrek kan word is dié van die Adventskalender. Dit kan in die vorm 
van 'n groot plakkaat gemaak word met 'n "venster" vir elke dag. In die venster 
word 'n prentjie geteken om telkens die volgende deel van die adventsverhaal te 
illustreer. Elke dag word 'n nuwe "venster" oopgemaak en die deel van die verhaal 
wat geïllustreer word, vertel. 'n Ander sinvolle gebruik tydens Advent is die Isai-boom.
KERSTYD EN EPIFANIE
Omdat meeste gemeentes voor Kersdag reeds "Kerstyd" vier (met o.a. kerssangdienste) 
en winkels mense aanmoedig om voor Kersdag hulle "kersaankope" te doen met allerhande 
Kerstyd is die tyd tussen Kersdag en Epifanie. As ons begin tel by 25 Desember tot 
en met 5 Januarie met Epifanie op 6 Januarie, dan kom ons by die getal twaalf uit, 
die sogenaamde "twaalf dae" van Kersfees. Gedurende hierdie twaalf dae (een van 
hierdie dae is natuurlik nuwejaarsdag), behoort ons eintlik "Kersfees" te vier. 
Die kleure gedurende Kersfees is tradisioneel wit en goud, wat op viering en vreugde dui.
Epifanie beteken "Godsverskyning" en verwys na die verskyning van God in menslike vorm 
op aarde. In baie Christelike tradisies is hierdie dag die groot hoogtepunt van 
die viering van Christus se koms na die aarde en word die gebruiklike geskenke ook 
op hierdie dag, en nie op 25 Desember nie, uitgedeel.
(Woordwyser 'n dag-tot-dag Bybelleesprogram 2002)