DIE LERAARS GESELS MET ONS
Pretoria Dowes se leraar, Ds. Jan gesels met elkeen
Wat beteken dit vir ons dat Jesus mens geword het? II Korintiërs 8:9 gee vir ons
die antwoord: "Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy (Jesus)
ryk was, het Hy (Jesus) ter wille van julle arm geword sodat julle deur Sy (Jesus)
armoede ryk kon word." Lees ook vers 1 tot 15 van II Korintiërs 8.
Jesus het vanuit die heerlike teenwoordigheid van God sy Vader vir ons geskenke gebring.
Watter geskenke? Vers 1 sê genade is die geskenk aan elke gemeente. Ook blydskap
in swaarkry tye. Vers 7 sê die Here Jesus het ons geloof gegee, gawe om vloeiend te
praat van God se liefde, kennis van God en ywer om die Here se liefdeswerk te doen.
Wat gaan ons nou met die geskenke doen? Ons gaan die geskenke uitdeel. Vers 2 sê ons
gee oorvloedig aan ander. Ons deel met ander wat nie het nie, sodat elkeen ewe veel sal hê.
Dit sal 'n wonderlike kersfees wees as ons God se geskenke met mekaar sal deel.
Mag u elkeen 'n geseënde Christusfees hê.
Van Jan, Drienie, Hanri en Henriko
De La Bat se leraar gesels met ons
Geestelike voedsel - God maak tyd vir ons
Johannes 1:1-2 : Die Woord (Christus) was daar voor alles begin het. Die Woord was
by God en die Woord was self God. 2 Hy was in die begin by God.
Dit lyk of alles op die wêreld vinniger en vinniger gebeur. Dit voel of die jaar
nou die dag begin het, en nou is dit klaar weer amper Kersfees. Ja die tyd vlieg,
en ons word besiger en besiger. Dit lyk of ons tyd minder en minder word.
En dit is 'n groot probleem vir ons. Want 'n paar dinge in ons lewe is vas: Ons
werkstyd, die afsprake wat ons het met ons sportvriende, die TV programme wat ons
altyd kyk, en die koerante en boeke wat ons lees. Ja, dit alles neem meer en meer tyd,
en ons het nie meer genoeg tyd vir die belangrikste dinge in die wêreld nie, die tyd
wat man en vrou moet gee om bymekaar te wees, die tyd wat ons huisgesinne nodig het
om met mekaar te kommunikeer, en belangrikste van alles, die tyd wat ons moet hê
om by die Here te wees, elke dag wanneer ons Bybel moet lees, en Sondae wanneer
ons Hom moet gaan dien. "Ons het nie tyd nie." Dit is wat ons almal sê. As ons tyd
gehad het, dan sou ons doen wat die Here vra, maar ons program is vol, ons het nie
tyd oor (vir die Here) nie.
Weet u dat die Here het nie tyd gehad nie. Hy was daar van die begin af, Hy was
by God, Hy is self God, en by God is daar nie tyd nie. Vir God is 'n duisend jaar
soos een dag. Die ewige lewe saam met God sal nie wees dat die horlosie net vir
altyd aanhou loop nie, nee, daar sal nie horlosies wees in die hemel nie, tyd sal
verdwyn. God het nie tyd gehad nie, tyd het begin vir ons mense toe die Here die
hemel en die aarde en die son gemaak het. Toe het dae en jare en tyd begin en elke
mens is vas binne in die tyd. Ons kan nie die tyd laat stilstaan soos God nie. Toe
Jesus gebore word op die aarde, toe het Hy in die tyd ingeklim en Hy het ouer geword saam met tyd. Voor dit het Jesus nie tyd gehad nie, maar Hy het regtig tyd gemaak om vir ons te kom red. Hoekom? Want Hy was so lief vir ons.
As jy lief is vir iemand, dan maak jy tyd vir hom. As jy nie lief is vir hom nie,
dan sê jy: "Ek het nie tyd vir jou nie." Of as jy eerlik wil wees, dan sal jy sê:
"Here, ek wil graag Bybel lees, maar dit is vir my belangriker om na die rugby te kyk as na U. Ek wil graag kerk toe gaan, maar dit is vir my belangriker om laat te slaap, sodat ek vars en uitgerus kan wees wanneer my vriende kom kuier. Here, daar is net 24 ure in die dag. Ek moet eet, en rus, en slaap en werk en TV kyk en ander dinge doen, dit is alles belangriker as U, daarom kan ek nie tyd maak vir U nie, ek het net genoeg tyd vir die ander dinge, nie vir U nie."
Wat is die boodskap van Kersfees? Dit is dat die Here in die tyd ingeklim het, Hy
het tyd kom maak, sodat Hy ons kon red, want Hy is lief vir ons. Elkeen wat lief is vir die Here, maak tyd om die Here te dien, Sondae, maar ook elke dag wanneer ons die Bybel lees. Is jy lief vir die Here? Maak jy genoeg tyd vir Hom?
Seënwense
Ds. Rocco Hough.
Worcester De La Bat se leraar gesels met ons
Moenie bang wees nie!
Jesus vra toe: "Glo julle nou? Die tyd het reeds aangebreek dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen op sy eie en vir My sal julle alleen los. Maar Ek is nie heeltemal alleen nie, want die Vader is by My. Ek het hierdie dinge vir julle vertel sodat julle vrede kan hê omdat julle aan My verbind is. In die ongelowige wêreld sal julle swaarkry, maar moenie bang wees nie, want Ek het die wêreld oorwin."
Johannes 16:31-33
Veilig bewaar!
Lees Psalm 121 - "Die Here is jou Bewaarder" - Psalm 121:5
Elke mens besit iets waaraan hy baie waarde heg. AS hy enigsins kan, sluit hy dit veilig toe in brandkluis. Hy sal dit ook vir sy nageslag probeer bewaar.
Die psalmis sê hier vir ons: Die Here is jou Bewaarder. Kan dit wees? Wil die Here my waarlik bewaar? Is ek dan werklik in die oë van die Here iets kosbaar wat bewaar en beveilig moet word?
Ja, Dit moet u en ek besef: ons is werd om bewaar te word, omdat Hy ons duur gekoop het met Christus se bloed aan die Kruis. Daarom bewaar, beskerm en beveilig Hy ons in alle omstandighede: in jeug en ouderdom, in voorspoed en teenspoed, in wanhoop en twyfel, van nou af tot in ewigheid. Maar die belangrikste van alles is dat Hy ons siel bewaar. Het u u siel aan Hom toevertrou vir veilige bewaring? Weet dan: niemand kan u uit God se brandkluis - Sy liefdevolle hart - ruk nie.
Gebed: Liefdevolle Vader, baie dankie dat ek soveel waarder in u oë het dat U my tot in ewigheid sal bewaar. Amen.
Terug na bo
|