As jy een van die is wat elke dag haar of sy ma bel, hier is 'n bietjie pitkos!
Daar gaan 'n dag aanbreek wat jy die telefoon optel en haar stem nie meer hoor nie!
Ek wil my ma bel. Ek moet met haar praat. Ek wil haar stem hoor, maar ek kan
nie, want die Hemel het nie 'n nommer nie. Nie onder die H's in die telefoongids
nie, en ook nie in die geelbladsye nie. In hierdie tegnologiese eeu met sy
satelliete is daar geen direkte lyn Hemel toe nie.
Een mag droom ek dat ek deurkom Hemel to, 'n stem tel op en ek vra "Kan ek met
my ma praat asseblief?" 'n Stem sê ja, maar net vir drie minute asseblief.
By watter afdeling is sy?, vra 'n sagte stem. "Afdeling?..... Seker by die
bak afdeling." Natuurlik sal sy mos daar wees.
Na haar dood het ek haar laaste ingeleg weggebêre. Ek sou dit nie kon eet nie.
Ek moes dit hou vir... kyk. Maar die stem sê, "Ons leef van die vrugte van die
gees, hier is nie 'n bak en brou afdeling nie." Dan seker die tuin afdeling sê
ek. Wat 'n planter was sy nie! Sy het vir my 'n pietersielie- en tiemie
steggie geplant wat 'n tuin geword het. Maar die stem antwoord "Ons saai nie
en ons plant nie, ons besit alreeds die ewige saad."
Ek raak desperaat. Watter afdeling is daar nog, vra ek? Die stem praat sag.
"Ons het kore!" Nee, ek weet darem nie, sy was nooit 'n voorsanger nie.
Wat nog vra ek? Die stem raak nie ongeduldig nie. "Daar is ook hulle wat sit,
sê die stem. Sit hulle net, vra ek nuuskierig? Ek het my ma nooit juis gesien
sit nie. "Hulle sit en luister," sê die stem. "O ja dan moet sy daar wees!!"
sê ek opgewonde. Ek moes geweet het jubel ek. Sy was altyd 'n luisteraar, haar
oë, haar gesig, haar hele lyf het saam geluister. Kan ek met haar praat, vra
ek opgewonde? Ek is seker sy sal baie bly wees!! "Hulle wat luister word nie
onderbreek nie, sê die stem baie sag, maar as jy wil kan jy saamluister."
Die droom is verby, maar die oggend onthou ek dit. En toe ek kniel, bid ek nie,
ek luister. Die stem het immers gesê ek kan saamluister. Ek luister en hoor
'n stilte vol vrede. En in die vrede is daar troos. En in die troos, arms
wat my vashou. En die vashou voel soos my ma se lyf. Nee, beter. Volkome.
Dit verdryf verlange en verdriet. En ek word bewus van die direkte lyn hemel
toe. Die lyn wat daar was voordat almal so slim geword het. Wat nooit
onderbreek word of besit is nie. Jy hoef nie eers 'n nommer te onthou nie,
want die Hemel is 'n kniebuiging ver.