Vriendskap is soos die natuur. Soms waai ons by mekaar verby sonder om te stop
en te vra hoekom die ander so verkreukel lyk. Die lewe se wind dra ons weg met
'n oppervlakkige "Goed dankie" en "Sien jou later". Soms sien ons eers baie
later die rypskade aan die ander se brose binneste en wonder ons hoekom het
ons nie al lankal gevra nie. Soms sien ons net die lentekleur raak op 'n gesig
en is ons nie eers bewus van die wurm wat aan sy/haar binneste vreet nie.
Soms wonder ons of dit net die wind is wat hom/haar wegbuig van ons af en of
dit dalk die stingeltjie self is wat sy stokstywe ruggie op jou draai.
Pluk iemand vir ons 'n ruiker uit God se tuin, wriemel ons weg van mekaar.
Roos se dorings steek te seer en papawer wil mos langs niemand wees nie.
Koringblommetjie kruip weg van skaamte oor haar kartelhoede en hibiskus wonder
of almal weet van haar verlede.
Intussen vergeet ons dat die Here afkyk op sy tuin en net pragtige blomme sien.
Almal is ewe mooi, ewe kosbaar, ewe goed in Sy oë.
VERGEWE MY as ek op 'n wintersoggend nie vir jou 'n trooskombersie van
woorde wou oorgooi teen die rypskade nie.
VERGEWE MY as ek op 'n lenteoggend selfsugtig met my eie nuwe blare
loop en spog het en nie die kneusplekkies aan jou stingeltjie gesien het nie.
VERGEWE MY as ek op 'n warm somersdag nie vir jou 'n tydjie gemaak het
nie, omdat ek te besig was, selfs te veel gekla het, te haastig was om aan jou
die koelte van my vrienskap te bied.
Weet dus dat ek daar is vir jou!
Bron onbekend
Ingegee deur Pikkie Truter - baie dankie